Alumni
Daar is ‘n griekse spreekwoord wat lui: “‘n Samelewing groei sterk wanneer ou mans bome plant waarvan hulle weet dat hulle nooit in die skadu sal sit nie”. En ons, as die bestuur van die kinderhuis, kyk met die grootste trots en liefde na die sterk volgroeide bome wat ons gehelp saai het en ons harte klop warm om te sien hoe daardie bome weer op hulle beurt vir ander skadu bied.
Ons is trots op elke kind wat ons drumpel kom deurtrap en hoop dat stories soos dié nie net ons huidige inwoners sal inspireer nie, maar ook ‘n bietjie hoop en bemoediging in enige iemand daar buite wat swaar dra, sal aanwakker.
‘n Juffrou met hart
“Vandag het ek die voorreg gehad om ‘n stukkie van my lewe te deel. Nege jaar lank was die kinderhuis my tuiste.
Waar ek liefde, sorg en leiding ontvang het.
Sonder daardie drie dinge was my lewe beslis nie gelukkig soos vandag nie. Mense moet besef dat jy nooit die alleen aandag van ouers in n kinderhuis kan ontvang nie, maar wel die regte beginsels en waarde geleer word.
Daarom was dit die belangrikste 9 jaar van my lewe om die regte grondslag te kweek na n onafhanklike vrou in hierdie uitdagende lewe wat ons trotseer.
Daarvoor sal ek altyd dankbaar voel aan almal wat aan my geskaaf het tot die vrou wie ek is vandag.
In die kinderhuis het jy twee keuses: Werk saam of wil jy teen die stroom van dissipline stry?
Wil jy ‘n sukses maak van jou lewe of wil jy teruggaan na jou omstandighede?
Niemand wil in ‘n kinderhuis wees nie, maar op die einde is dit die beste plek waar jy as kind opgeneem kan word, sodat jou wêreld nie sonder n grondslag begin en later inmekaar tuimel nie.
Dit is waar jy weer stabiliteit, selfrespek asook selfvertroue kry om ons deurmekaar wêreld te kan trotseer.
Ek as dogtertjie het baie van n mamma gedroom wat my vashou en mooi aantrek.
‘n Mamma wat vir my lief is, saam met wie ek dinge kon doen en voel ek behoort aan n huisgesin.
Baie aande het die trane vanself geloop in die donker alleen in my bedjie waar ek veilig gevoel het.
Hunkerend na my eie familie.
Tog het dit my gedwing om volwasse en sterk te groei wat my n vegter gemaak het.
Daarvoor was my hartjie opreg dankbaar vir n veilige plek soos Reddersburg se kinderhuis waar ek gou geleer het ek behoort aan n groot familie.
Die kinderhuis bied ook vir jou baie geleenthede.
Mense dink en hanteer kinderhuis kinders op verskillende maniere en ken nie jou omstandighede voorheen nie. Dit is harde werk om aan jou selfbeeld te werk en bo jou omstandighede uit te styg. Reddersburg kinderhuis was vir my ‘n positiewe uitkoms.
2006 maak ek klaar met matriek en begin die pad na grootmens wêreld, ontmoet my man Jaco in 2008 en trou in 2010. Nie gedink my lewe gaan so vinnig in plek val nie. Alles so perfek. 3 kinders wat ek die voorreg kon hè om self groot te maak. Ek is nou ‘n kleuterskool Onderwyserres.
Vir elke huismamma en pappa wat na leenkinders kyk, baie dankie. Baie dankie vir die rol wat julle in daardie kind se lewe speel. Dankie dat julle liefde vir ’n kindjie gee wat nie jou biologiese kind is nie. Dankie dat julle die geduld het vir kinders wat net seerkry ken in die lewe en dink dis hoe ‘n mens liefde wys. Maar julle gee nie op nie, julle bly liefde gee. Dankie vir jul opoffering.
Goeie ouers hoef nie van dieselfde bloed te wees nie.
Dit kom uit hulle harte en die grootste wen resep om gebalanseerde kinders groot te maak is LIEFDE en nogmaals LIEFDE.
Dit is wat Reddersburg se kinderhuis kinders elke dag ontvang en van ons wenners maak.
Daarom se ek dankie vir my Here dat ek die voorreg gehad het om daar te eindig en soos n volwaardige vrou vandag voel en liefde aan my eie kinders daagliks kan gee.
Reddersburg kinderhuis gee om.”
– Juf. Cloete, Alumni 2006
‘n Kampioen van mense
Mnr C. Dreyer is nog ‘n wonderlike voorbeeld van dit wat PKK se inwoners in staat is.
Hy matrikuleer in 1968 van Hendrik Potgieter Hoërskool in Reddersburg, waarna hy sy tasse opgepak het en die begin van sy grootmens lewe in Walvisbaai bevind met die voltooiing van sy Militêre diensplig in 1969.
Na afloop van sy diensjaar keer hy weer terug Noord om sy BCom kwalifikasie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys te voltooi in 1972. Sy opleiding eindig egter nie daar nie. Mnr Dreyer studeer verder aan die hand van die Universiteit van Pretoria om ‘n Senior Bestuursprogram ook as deel van sy vaardigheidsarsenaal te maak.
Hy het sy merk op die samelewing gemaak as ‘n bemarkingsbestuurder en staan by aftrede as hoof bemarkingsbestuurder van ‘n versekeringsmaatskappy in Pretoria.
Hy spog ook met sy geliefde vrou en drie kinders wat hulle saam gebou het. Sy kinders bevind hulself gestrooi regoor die wêreld in Spanje, Nederland en Engeland. Hy is ook die trotse oupa van 2 spaanse kleinseuns, ‘n tweeling paar engelse kleinseuns en selfs ‘n professionele rugby speller in Italië aan die Turyn Universiteit.
As afgetrede Nelspruiter, is Mnr. Dreyer steeds ‘n voetsoldaat vir sterk morele waardes en ‘n stem vir agterglaadte demografiese groepe soos bejaardes en kinders. Dit trek deur in enige gesprek wat hy aanpak en selfs in sy epos ter goedkeuring van sy alumni storie skryf hy:
“In my blootstelling weet ek van verskeie oudinwoners wat prominente indrukwekkende prestasies in die samelewing gelewer het. Afgesien van verskeie finansiële miljoeners is daar op tersiêre akademiese gebiede en in die openbare gemeenskap uitsonderlike bydraes deur oud PKK inwoners gelewer. Nie almal is gemaklik om dit in die openbaar uit te basuin nie, maar dit verdien spesiale vermelding om huidge en toekomstige inwoners van die PKK tot hoër hoogtes aan te spoor.”
‘n Ware kampioen van mense!
– Mnr. C. Dreyer, Alumni 1968
‘n “Aanhouer wen”
“My naam is Ben Sasnowske en was woonagtig te President Kruger Kinderhuis, van die ouderdom 6 jaar tot 18 jaar, van 1982 tot 1993.
Ek, my sussie Louise en boetie Louwtjie was dieselfe tyd in die kinderhuis. Ons is weggeneem deur die welsyn, omdat ons ouers alkoholiste was, en saam met dit was ons ook mishandel deur my pa en seksueel gemolesteer. My pa kon nie ‘n werk behou nie en kon dus ook nie vir ons sorg nie.
Dit was maar ‘n moeilike rit vir die eerste paar jaar om aan te pas en te probeer verstaan hoekom ek nou juis nie by my ouers kon wees nie. Maar het toe aangepas en goed gedoen.
Ek sukkel vandag steeds met verwerping op die ouderdom van 47 jaar. Dit is as gevolg van die feit dat ek gereeld na verskillende pleegouers geplaas is vir vakansies en net gevoel dat ek nêrens hoort en dat niemand my wil hê nie.
Die kinderhuis was volgens my die beste ding wat met my kon gebeur het. Die kinderhuis het my standvastigheid gegee en die liefde wat ek nodig gehad het om ‘n gevestige en ‘n persoon met goeie waardes te word. Ek het gereëld vir my ma dit gesê, omdat sy soveel verwyte gehad het nadat sy ons verlaat het.
Ek beskou myself as ‘n mens met goeie waardes, en in my jare in die kinderhuis was ek twee jaar na mekaar as die hoofseun van die kinderhuis verkies, in 1992 en 1993. Ek was ook in 1993 tot die leerlingraad van die skool verkies, asook die voorsitter van die debat kommittee.
Ek is deur twee ongelooflike mense vir vakansies ingeneem as n pleegkind in 1989, Oom Cas en Marieta Pretorius van Bothaville. En hul het my geleer wat liefde is en het my soos hul eie kind laat voel.
Ek het die kinderhuis verlaat na Matriek en begin werk, maar dit was glad nie maklik nie. Om alleen in die wêreld ingestuur te word, met geen ondersteuning en leiding. Ek het die eerste 10 jaar van my loopbaan 3 keer my werk verloor. Die laaste keer het ek my heenkome, asook my voertuig verloor. Terselfde tyd moes ek met Bipolere versteurings worstel en wou amper opgee, want die depressie het my onder gekry. In die 29 jaar van my loopbaan, 5 keer my werk verloor. Glo my, dit was nie maklik nie maar het ek elke keer opgestaan en aanbeweeg.
2020 was ‘n verskriklike jaar vir my gewees nadat ek my pleegpa, Oom Cas, my biologiese ma en my sussie aan die dood afgestaan het. In 2022 is my boetie ook as gevolg van komplikasies na afloop van ‘n motorongeluk oorlede en toe is my pleegouers se seun Gawie ook aan hartversaking oorlede. So, wat ek wil deurbring, is dat die lewe nie maklik is nie, en baie struikelblokke het. Wat jy daarvan maak, is wat saakmaak!
Ek het wel op die ouderdom van 37 die geleentheid gekry om verder te swot en my BCom Graad bekom. Ek is tans besig met my Honeurs in Besigheidsbestuur by die NWU se Besigheidsskool en sal graad vang in 2024, met die hoop om vir myself ‘n toekoms te kan bou. Ek bestuur my eie “Event Management” besigheid en doen funksies, troues ens van begin tot einde.
Die leuse van die Hoër Landbouskool sal altyd by my bly, ‘Aanhouer Wen’.
– Mnr. B Sasnowske, Alumni 1993
Brief vir hoop
Aan die wa ‘n bietjie hoop en bemoediging nodig het,
My naam is Mariana Lubbe. Ek was in die kinderhuis sedert 2000 tot omtrent 2010.
Ek is so dankbaar dat die Here my in die sorg van die kinderhuis geplaas het. Dit was nie altyd maklik nie en ek het nie altyd verstaan hoekom ek daar moes wees nie. Wat ek wel kan sé is dit was die veiligste plek waar ek kon wees. Ek het veiligheid gehad,kos,klere en n warm bed om in te slaap elke nag. Daar het ek God leer ken,ons moes elke sondag kerk toe gaan al was ons nie lus nie en wou ons eerder net buite speel of nog beter ons het gemaak of ons siek was of altans ek! {HAHAH} Ek was altyd kwaad en ondankbaar ek het nie van beter geweet nie.

Ek het nie besef die kinderhuis sou my voorbrei om die mens te wees wat ek vandag is nie. As ek dit geweet het sou ek die lewe in ‘n heel ander lig gesien het. Waneer mens groot word en meer verstand het besef mens hoe wonderlik die kinderhuis eintlik is. Daar is liefde,sekeriteit en mense wat omgee, mense wat wil hê dit moet met jou goed gaan. Ek noem hulle “God’s angels on earth”.
Ons het respek geleer en natuurlik asseblief en dankie ek gebruik dit tot vandag toe. Ons het geleer hoe om netjies te wees, hulle het vir ons goeie tafel etiket geleer, Dit is goed wat ek nou nog doen en ook vir my kinders leer.
Die dag toe ek in die grootmens lewe in vaar het die kinderhuis my gehelp om my voete te vind om skoonheid te studeer. Dit was nie altyd maklik nie en ek moes ewe skielik groot word en my eie besluite neem wat natuurlik baie moeilik was. Ek het toe begin om by ‘n modelskool modelwerk te doen en daar ontmoet ek ‘n engel met die naam Sofia. Ons het wêrelde van mekaar verskil maar die Here het in haar hart gewerk en sy het my onder haar vlek geneem en my verder laat studeer. Ek moes in haar restaurant werk sodat ek my eerste huis kon betaal elke maand en natuurlik lewe. Dit was nie ‘n maklike pad nie ek het foute en besluite gemaak waarop ek nie trots is nie, maar God se genade was so groot Hy het my baie kanse gegee tot ek die regte besluite begin neem het,waarna ek ‘n suksess van my lewe kon maak. Daar was baie trane en baie seer op my pad en dae wat ek wou opgee maar die Here het gesê ek moet net aanhou en vertrou en daarom is ek waar ek is vandag.
Aan Oom Izak en Tannie Anso – ek kan nie genoeg vir hulle dankie sê nie. Ek ken nie nog mense wat die Here lief het soos wat hulle het nie, daarom kon hulle vir ons so lief wees. Hulle was so mooi voorbeeld van wat n man en vrou moes wees en hoe om goeie ouers te wees en hoe hulle mekaar moet ondersteun en lief hê. Ek wou nog altyd dieselfde tiepe liefde ervaar soos wat hulle het. Vir lank het ek gedink ek was nie goedgenoeg vir dit nie. Maar ek het dit gevind.
Ek is tans 30 jaar oud ek woon op ‘n plaas saam met my man en twee pragtige kinders. My hart het vir jare verlang na ‘n goeie lewe en ‘n familie. God het my geseën met my eie familie. Mens moet net geduldig wees want God se tyd is nie ons tyd nie.
Groete Mariana Lubbe
– Mev. M Muller, Alumni 2010
Vrede in die klein oorwinnings
Die realiteit is dat die lewe nie net maanskyn en rose is nie en nie almal kan ‘n wêreld bekende sirurg wees of aan die stuur van ‘n string besighede kan staan nie.
Die wêreld het die klein outjie of die Jan Alleman ook nodig. Vir hierdie rede wou hierdie Alumni lid fokus eksklusief wil plaas op op die klein vreugdes en klein oorwinnings. Hierdie oorwinnings neem die vorm aan van innerlike vreugde en vrede.
Die Alumni lid is vanaf ‘n baie jong ouderdom afsaam met die res van haar broers en susters in PKK en beskryf die ervaring as die plek waar sy ‘n “ander familie” gekry het en vertel dat dit vir haar was soos om in die koshuis te wees,“Party naweke kan jy huistoe gaan en ander naweke nie.”. Haar uitkyk was en bly dat mens nie jou omstandighede is nie end at mens steeds kan uit stuig bo jou omstandighede en geluk env rede in jou hart vind. “Ek persoonlik dink nie ek het sleg uitgedraai, ongeag wat my omstandighede van grootword jare was nie. Ek het nogsteeds my waardes.”. Een van die eenvoudigste en dikwels miskykde geskenke in die lewe is dit van innerlike vrede. Daar is baie mense op hierdie groen aarde wat sake en sake vol geld het, maar nooit regtig vrede het in hulle harte nie en soos ‘n leë dop rond dwaal.
In die lewe moet ‘n mens leer om waarde te heg aan die klein vreugdes bo die aardse suksess, en hoewel aardse suksess ook belangrik en vervullend kan wees moet mens nooit koers verloor van dit wat die belangrikste is nie. Die Alumni lid ly ‘n gelukkige lewe en dink terug met dankbaarheid in haar hart, “Ek wil baie dankie sê aan PPK, dat hulle vir my plek gehad het, en deel was van die vorm van my mens wees. Die mense wat daar is, het harte van goud, wie van ons het die geduld deesdae of selfs die lus om na soveel kinders om te sien en na almal se stories te luister?”.
Dis die klein dingetjies wat op die ou einde van die dag die detail in die groot prentjie insit en self, die groter prentjie word.
– Dankbare Oud Alumni



